By Gerrit Komrij – die Nederlandse digter, bloemleser, essayis, vertaler en literêre genie – het ek twee dinge geleer wat my diepgaande beïnvloed het.

Die eerste is dat die interessantste en insiggewendste ontledings van letterkundige tekste – en in die besonder van gedigte – gemaak word deur ingeligte, intelligente mense wat nie op teorieë hoef te steun om gesag aan hul interpretasies te gee nie. Al wat noodsaaklik is, is gesonde verstand en die vermoë om prikkelend en kernagtig te formuleer.

Inderwaarheid het Komrij bevestig wat my reeds as student so in D.J. Opperman se opstelle en in sy literatuurgeskiedenis Digters van Dertig geboei het. Opperman het byvoorbeeld Uys Krige se uitgesponne praatverse “spraaksaam” genoem en gesê sy gedigte lyk dikwels soos brode wat oor die rand van die pan gerys het!

my universiteitsopleiding het ek self in die troebel akademiese oseaan verseil geraak en my soms laat verlei tot die meganistiese manier van lees wat aan universiteite so gewild is. Ek bedoel die klakkelose oorname van ’n ander se teorie en dan die verbeeldinglose toepassing daarvan op ’n literêre teks wat in die proses genadeloos deur stomp instrumente doodgemartel word. En meestal is dit byna onleesbaar. Die Nederlandse literator Karel van het Reve het al in 1978 gekla oor die “raadsel der onleesbaarheid” van die literatuurwetenskap.

Komrij se insigryke, aforistiese en trefseker formulerings het my weer ná my vroeëre dwaalweë op die regte pad gebring. Ek noem net een voorbeeld van Komrij se manier van raaksê. Tydens ’n gesprek oor die sogenaamde eksperimentele digters van vrye verse wat in die vyftigerjare die Nederlandstalige literatuur oorheers het, kom hy met die onvergeetlike (en vir my bemoedigende) uitspraak: “Maar, Daniel, gelukkig het ons die rymende voorsprong.”

Een van Komrij se laaste publikasies was Mijn poëziekalender voor het jaar 2012. Daarin het hy ook Afrikaanse gedigte opgeneem en op sy pittige manier bespreek. Van Boerneef se gedig oor Janke Malanke Langklaasfranke en sy vrot eikehoutplanke sê hy byvoorbeeld tereg dat dit nie ’n tongknoper is soos wat dikwels beweer word nie. Nee: “Het vers spuugt, het is een salvo.”

Hoewel Komrij nooit sy universiteitstudie voltooi het nie, was sy impak op die Nederlandse literêre wêreld so groot dat die Universiteit van Leiden in 2000 hom met ’n eredoktorsgraad vereer het.

Die tweede terrein waarop Komrij my beïnvloed het, was dié van tweedehandseboekwinkels. Voor ek hom in 1998 leer ken het, was ek ’n amateurboekversamelaar. Hy het my gewys hoe ’n professionele speurhond ’n boekwinkel sistematies deursnuffel en geen enkele waardevolle boek of winskopie laat ontsnap nie. Hy het jaarliks na Kaapstad gekom en uitgebreide boeksafari’s onderneem in Langstraat, Seepunt, Claremont en Mowbray, maar ook in Kalkbaai, Franschhoek en Stellenbosch – met my en sy lewensmaat Charles Hofman as sy swoegende askari’s. Toe hy in 2012 oorlede is, het hy sekerlik een van die grootste versamelings Africana en Afrikaanse boeke in Europa besit. En dit was maar net ’n onderdeel van sy totale biblioteek.

Komrij het my geleer dat ’n literatuur uit ’n veel groter korpus bestaan as die eng akademiese kanon. Dié beginsel het hy klinkklaar geïllustreer in sy bloemlesings uit die volledige Nederlandse en Afrikaanse digkuns. Die verwaarloosde, geminagte randfigure en sonderlinge van ’n literatuur is dikwels net so interessant, of dalk meer, as die groot kanonne.

Ek sal nooit Komrij se diaboliese gryns vergeet wanneer hy ’n eksotiese juweel voor my neus uit ’n stowwerige winkelrak pluk nie. Hy het ’n sesde sintuig, ’n radar, ’n sonar gehad om die naald in die hooimied, die goudklont in die gruis te vind. Die posgeld na Portugal, waar hy gewoon het, was klokslag meer as die aankoopprys van daardie bokse vol boeke.

J.C. Kannemeyer het my tydens die hewige polemiek oor Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte (1999) op ’n keer “Komrij se lakei” genoem. Ek het dit toe al as ’n eretitel beskou.

Ek kan nie anders as om met deernis en dankbaarheid aan Komrij te dink elke keer as tweedehandseboekwinkels, daardie argiewe van die alternatiewe kanon, my in hul stowwerige web vang nie.